13 januarie 2008 eerste sondag na epifanie liturgiese voorstel



Yüklə 24,91 Kb.
tarix07.12.2017
ölçüsü24,91 Kb.
#14405

13 januarie 2008

eerste sondag na epifanie

liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Matteus 3:13-17

Ander tekste: Jesaja 42:1-9; Psalm 29;

Handelinge 10:34-43

Inleiding

Die eerste Sondag na Epifanie staan ons by die doop van Jesus stil en hoor ons telkens die bekende woorde “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Daarmee staan Jesus uitgesproke voor ons as Seun van God. Jesus gaan die water in nie om sonde af te was nie, maar om die sonde van die mense op Hom te neem. (Sien “Preekstudie”.) God se woorde oor Jesus bevestig dus Jesus se roeping. Sy roeping om uiteindelik deur sy dood dit moonntlik te maak dat ons ook geliefdes van God genoem kan word. Tydens Epifanie kyk ons na die Een wat Hom volkome vir hierdie wêreld gee.

Psalm 29 bevestig dat dinge gebeur wanneer God sy stem laat hoor, ook by Jesus se doop. In Jesaja 42:1-9 stel God sy dienaar aan. In Handelinge 10:34-43 spel Petrus in sy toespraak by Kornelius ook duidelik Jesus se roeping uit.



God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord: Jesaja 42:1-4a

Seëngroet

Geliefdes wees gegroet in die Naam van Jesus

die vleesgeworde waarheid van God by ons.

Jesus wat toon dat die naam wat die Vader ons gee

waar is: geliefde.

“Die Here gee krag aan julle, sy volk;

Die Here seën julle, sy volk, met oorvloed” (uit Ps 29:11).

Wet

Matteus 6:1-4.

Jesus kom roep die godsdienstiges van sy tyd op om te kyk na hulle motief agter die dinge wat hulle doen. Jesus kom vra ’n vraag oor die geboorte van dinge in ons lewe. Jesus wil weet of ons optrede teenoor ander daarop gerig is om in die wêreld eer te ontvang, of doen ons goed omdat dit gebore is uit ons omgang met God.


Diens van die tafel

As uitvloeisel van die nagmaal stel ons ons beskikbaar om deur God gebruik te word.

Ons bid dat God ons sal help om by mense en die nood van die wêreld betrokke te raak.


Diens van die Woord

Gebed op die opening van die Woord: In die gebed verklaar ons dat ons rustig op God wil vertrou. Ons weet aan ons lewe dat Hy ons uitgekies het en dat Hy ons seën. Ons ken ons eie gebrokenheid en glo dat Hy ons wil leer hoe om dit in die wêreld tot seën van ander te gebruik.


Uitsending

Verbintenis

Ons stel oop om deur God gebruik te word as instrument van goeie nuus.



Seën

Musiek en sang

Lofsang: Lied 221

Oproep dat ons in liefde met ander sal leef: Lied 530:1-3

(by “God versamel ons voor Hom”)





Skuldbelydenis: Lied 240:1 x2. Sing sittend om ook met ons lyf iets van ons belydenis te wys.

Gebed op die opening van die Woord: Lied 519:1-4

Bevestiging van ons verbintenis: Lied 308:1-5

Antwoord op die seën: Lied 312 “Amen”

preekstudie – MATTEUS 3:13-17

Teks

Kingsbury, met sy bekende driedeling van Matteus (1:1-4:16 – Jesus bekend gestel; 4:17-16:20 – sy bediening aan Israel en hulle reaksie; 16:21-28:20 – sy lyding), beskou ons teks as die hoogtepunt van die eerste deel van Matteus. Jesus word hier onomwonde God se geliefde Seun genoem.

Nie dat daar nie vroeër reeds daarop gesinspeel is nie. In 1:16 gebruik Matteus die (Goddelike) passiewe werkwoord vir “gebore” (Gr egennéthé) om die leser daar reeds te laat besef dat Jesus vanweë ’n Godsdaad gebore word. In 1:18-25 wys Matteus daarop dat Jesus se verwekking nie deur Josef se toedoen was nie, maar van die Heilige Gees kom. In die terloopse 1:23 word dit beklemtoon dat Maria ’n maagd is en dat haar kind “God met ons” genoem sal word. In 2:7-23 gebruik Matteus deurgaans die uitdrukking “die Kindjie en sy moeder”, en beklemtoon op dié manier dat Josef nie die kind se vader is nie, maar Maria tog sy moeder. In die vervullingsitaat van 2:15 word God aangehaal om “my Seun” met betrekking tot Jesus te gebruik. Deur die doopperikoop direk na die Johannesperikoop te plaas (3:1-12), beklemtoon Matteus dat Jesus die Een is wat na Johannes kom en sy meerdere is.

Buiten die inleidende vers 13 val die gedeelte in twee dele uiteen, die dialoog tussen Jesus en Johannes (v 14-15) en die twee openbarings wat volg.

Pas nadat Johannes vertel het van “Hy wat na my kom” (v 11), kom Jesus na die Jordaan om deur Johannes gedoop te word. Johannes wil dit verhinder (Gr kóluein – ’n tegniese term wat telkens in doopverband gebruik word, vgl Mark 10:14; Hand 8:36; 10:47). Jesus oorreed Johannes tog om Hom te doop, “want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (OAV); “op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen” (NAV); “For in this way we shall do all that God requires” (Today’s English); “for us to meet all the Law’s demands” (Phillips); “op hierdie manier voer Ek en jy God se groot plan uit om die wêreld te red” (Boodskap); en “op dié manier doen ons alles wat God wil hê” (Lewende Bybel).

Luz bespreek die gebruik van die Griekse woord pléroó. Hy wys daarop dat Matteus vir die aksies van die dissipels die Grieks poieó (plus to theléma) of téreó (plus tas entolas) gebruik. Pléroó word net vir Jesus gebruik en dan in die sin van “fulfil” en “actualise”. Die bedoeling is dat Jesus ten volle God se wil gehoorsaam het. Die leser sal in elk geval by 5:17 ontdek wat die Christologiese implikasies van die uitspraak in 3:15 is. Hierdie vers het dan ’n seinkarakter wat na 5:17 dui.

Matteus beskryf nie die spesifieke doopgebeure nie, maar konsentreer op die twee openbaringsgebeure wat op die doop volg. Kingsbury sien in die woorde “dadelik daarna uit die water gekom” die betekenis dat Jesus Hom nou van Johannes verwyder en dat Hy alleen die Gees sien neerdaal en die stem hoor. Net Jesus en ander transendente wesens (Satan; 4:3 en 6) hoor God se stem (contra Luz).

Agterna gesien is daar getuienis wat hierdie beskouing versterk. As die skares die stem sou hoor, is dit onverstaanbaar waarom ten minste ’n gedeelte van hulle nie sou glo dat Hy die Seun van God is nie (vgl 12:23; 16:13-14; ook 13:55). En verder, indien Johannes die stem sou gehoor het, is daar nie blyke van in sy vraag aan Jesus in 11:2-3 nie.

Die eerste openbaringsgebeure is vir die oog bedoel. Hy (Jesus) sien die hemel (vir hom – tekskritiek) geopen. Dit is om die Gees te laat neerdaal en ’n teken dat ’n Goddelike openbaring gaan plaasvind (Eseg 1:1). Die Gees daal dan soos ’n duif neer en kom op Hom.

Die tweede openbaringsgebeure is vir die oor bedoel.


D J Smit, weliswaar oor Markus 1:9-11, maar sekerlik ook op ons perikoop van toepassing, wys dat daar ’n redelike debat bestaan oor die inhoud van die woorde van die stem uit die hemel. Dit lyk asof die evangelies se formulering bestaan uit ’n samevoeging van: “Jy is my geliefde Seun” (Ps 2:7) en “Oor jou verheug Ek my”
(Jes 42:1). Hierin sou dan ’n dubbele beskrywing van Jesus opgesluit wees. Psalm 2 het assosiasies met koningskap en troonbestyging en is in die vroeë Christendom ook op die opstanding van toepassing gemaak. Jesaja 42:1 staan aan die begin van die “Kneg van die Here”-liedere en het dus assosiasies met nederigheid en bereidheid tot plaasvervangende lyding. Party geleerdes hou aan albei betekenisse vas, ander net aan die Psalm 2-verbintenis, terwyl sommige net die Jesaja-betekenis beklemtoon. Ten opsigte van die Christologie verkies ons eersgenoemde standpunt. Kingsbury sien in die woorde ook ’n verwysing na Genesis 22:2 – Isak is Abraham se enigste geliefde seun.

Kingsbury wys daarop dat die woorde “my geliefde Seun” ander reeds gebruikte titels vir Jesus oordek (Eng “overlap”) en transendeer. In Psalm 2 is die een uit die huis van Dawid (gelyk aan S/seun van Dawid) ook God se seun en koning (Ps 2:6) en sy gesalfde (LXX christos). Psalm 2 wys dus in profetiese vorm op die hoogs ontwikkelde Christologie in die eerste gedeelte van Matteus. Die Jesus wat deur God as sy geliefde Seun aangespreek word, is dieselfde Jesus wat deur Matteus as “Messias”, “Seun van Dawid”, en “Seun van Abraham”, aangespreek word en wat deur die wyse manne as “Koning van die Jode”. Dit dan wat die “overlapping” betref.

Wat die transendensie betref, wys Kingsbury op die unieke “ouer-kind” (Eng “filial”) -verhouding tussen God en Jesus: Jesus word deur die toedoen van die Heilige Gees gebore (1:18, 20); Hy word deur die Gees bekragtig (3:16); Hy is Immanuel, God met ons (1:23) en is die Een deur wie God Hom openbaar (11:27). Deur die oproep tot dissipelskap kan ander ook in ’n kindskap-verhouding met God tree, maar Jesus is die unieke enigste Seun van God. Daarom praat Hy oor God as “my Vader” (7:21; 10:32-33; 12:50). Met betrekking tot die dissipels praat Hy oor God as “julle Vader” (5:16, 45, 48) en nooit as “ons Vader” nie. Selfs die gebed van die Here is nie ’n uitsondering nie omdat die “ons Vader” daarin (6:9) die woorde van die dissipels as groep is, wanneer hulle in gebed verkeer.

Aan die einde van die doop-perikoop staan Jesus uitgesproke voor die leser as Seun van God. Hy word dan die woestyn ingelei om daar in die woonplek van die bose deur die duiwel versoek te word. Drie maal word Hy getoets, en die kern van elke toets het te make met Jesus se gehoorsaamheid en toewyding aan God.



Konteks

Luz bespreek die Wirkungsgeschichte van die perikoop. Jesus se onderwerping aan Johannes se doop was deurgaans ’n brandende kwessie. Die perikoop was as ’t ware ’n verleentheid vir die kerk en het beperkte invloed gehad. Hy wys daarop dat daar aanvanklik pogings was om dit by die credo in te sluit, maar dat dit laat vaar is. Die Gnostici het van die teks gebruik gemaak om hulle doketiese siening te staaf dat die Gees-Christus van bo kom en hom uitwendig met die liggaam-Christus verbind. Die Adopsioniste het die teks by uitstek gebruik om aan te toon dat Jesus by sy doop as Seun van God aangeneem is. Die ortodoksie, vir wie Jesus die ewige Logos was en wie se inkarnasie lank voor die doop plaasgevind het, het hulle moeilik met die teks vereenselwig. Die teks skep ook probleme vir ’n trinitariese Christologie waarin Jesus die tweede Persoon van die Drie-eenheid is. Hy wys daarop dat die interpretasiegeskiedenis op pogings dui om die perikoop in Christologieë “more divine” te integreer. Eerstens sê hy dat die gedeelte gebruik is as getuienis vir die Drie-eenheid (Teodorus van Mopsuesta). Die Drie-eenheid sou dan verskyn by wyse van die stem van die Vader, die gehoorsaamheid van die Seun en die salwing deur die Gees. Tweedens word te veel in die Christologie van die perikoop ingelees deur die perikoop as begronding vir die Christelike doop te beskou. In die antieke kerk was dit die beskouing dat Jesus die doopwater gereinig het op grond van sy doop. In die Oosterse tradisie is die verband tussen Jesus se doop en die Christelike doop nog sterker. In dié tradisie is Jesus se doop die sentrale punt in die Epifaniefees en boonop is 6 Januarie, naas Paasfees, die belangrikste doopgeleentheid. Jesus se doop word ook deur die Baptiste aan die Christelike doop verbind omdat dit dan op die vrywillige aard van die doop sou dui. Hy wys ook die siening af om Jesus se doop as ’n versoeningsdaad te sien. Hy wil ook nie die siening vestig dat die doop ’n deel van die heilsgeskiedenis vooruit loop nie. (Adam het die hemel gesluit, sedert Christus is die hemel weer oop.) Hy eksegetiseer die gedeelte en sien die skopus as Jesus Seun van God. “Jesus is the obedient and humble one. It is precisely to this obedience of Jesus that God responds with his proclamation: ‘This is my beloved Son.’ The uniqueness of Jesus in our text consists not so much in the preexistence, also not in the miraculous conception – which is not central for the evangelist – but in his unique obedience . . . There is profound depth in the fact that Matthew does not wish to advocate a ‘high’ Christology and that he brings Jesus’ sonship to a climax in his obedience. The way of the disciples is also defined as the way of concrete, earthly obedience . . . there is only the way of obedience. The son of God takes this way first.”

Smit bespreek die parallelle gedeelte in Markus (WtL 1/5). Hy kom tot die konklusie dat “die skopus of geheelinterpretasie gesoek sal moet word in die rigting van die biografies-historiese Christologiese verklarings en meer spesifiek in ’n kombinasie van sy daad van solidariteit met die volk in sonde en die openbaringsgebeure wat daarop volg.”
Noordmans mediteer in twee rondes oor die gedeelte. Eerstens is dit vir hom belangrik om aan te toon dat Jesus aangetref word waar mense hulle skuld bely en tot bekering kom. Hy waarsku dat die geloofsleer nie die bekering en belydenis van sonde moet bemoeilik nie. “Er zijn mensen, die zich bekeren zouden, wanneer men het hun niet onmogelijk maakte door een ingewikkelde dogmatiek.”

Tweedens toon hy aan dat “Jezus behoeft niet gedoopt te worden”. Maar dat daar in die koninkryk van die hemel ’n ander stel reëls geld – “waarin wat niet behoeft, tog betaamt. Waar men wat niet behoeft, toch doet.” Jesus laat hom daarom doop. Die evangelie sê immers dat die onskuldige die straf dra. Sommige skaam hulle, ly ’n ander een vir hulle, dan kry hulle berou en kom tot inkeer.



Preekvoorstel

Inleidend kan opgemerk word dat ’n mens op grond van hierdie teks oor jou kinderdoop gekonfronteer kan word. Daar is mense wat jou met rollende oë daaraan herinner dat jy eendag voor ’n grootgedoopte Heiland sal moet rekenskap gee oor jou kinderdoop (A König).

Die voorlopigheid van die doop waarmee Johannes doop, kan kortliks verduidelik word met verwysing na Handelinge 19. Ook kan daar kortliks uitgestippel word dat die kinderdoop nie op enkele tekste gebaseer is nie – juis omdat die voorstanders daarvan erns maak met die vraag van God se verhouding met kinders van gelowiges.

Vervolgens kan aangetoon word dat die teks eintlik nie iets oor die dooppraktyk wil leer nie. Die beskrywing van die doop is baie kursories. Die klem in die gedeelte val eintlik op die twee openbarings wat op die doop volg. Die teks wil ons nie iets oor die doop leer nie, dit wil ons iets oor Jesus leer.

Op voetspoor van Kingsbury hierbo, kan die gebruik van Psalm 2 en Jesaja 42 uitgelê word – die Seun van God as dienende kneg. Jesus gaan in die water in, nie om sonde af te was nie, maar om die sonde van die mense op Hom te neem. “As Jesus van Nasaret in Galilea kom en Hom, in solidariteit met die belydende volk deur Johannes laat doop . . . Dan aanvaar God dit. Dan verseël God dit. Dan openbaar God Hom” (Smit).

Daar kan ook aangetoon word in welke mate die titel “Seun van God” Jesus se ander titels “overlap” en transendeer.



Ten slotte moet die gehoorsaamheidsaspek beklemtoon word. 2 Petrus 1:16-19 kan gebruik word in die appèl tot gehoorsaamheid: “Julle sal goed doen as julle in sy lig bly . . .” en “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel . . .” (7:24) en “wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry . . .” (16:24 ev).

Bibliografie

Berkouwer, G C. The person of Christ; Carson, D A. The Expositor’s Bible Commentary; Kingsley, J D. Matthew Proclamation Commentaries en Matthew, Structure Christology, Kingdom; Kingsley, J D. Matthew as story; König, A. Die Doop as Kinderdoop en Grootdoop; Luccock, R E. Preaching through Matthew; Luz, U. Matthew 1-7, Augsburg; Malina, B J en Rohrbaugh. R L. Social-science commentary on the Synoptic Gospels; Noordmans, O. Verzamelden Werken 8; Patte, D. The Gospel according to Matthew; Phillips, J B. The New Testament in Modern English; Ridderbos, H. The coming of the Kingdom; Smit, D J. Markus 1:9-11 in Woord teen die Lig 1/5.
Yüklə 24,91 Kb.

Dostları ilə paylaş:




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©genderi.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

    Ana səhifə