Meningstuk deur professor Ann Skelton Kinders in die tronk saam met hul moeders – Suid-Afrika neem die voortou



Yüklə 6,09 Kb.
tarix04.12.2017
ölçüsü6,09 Kb.
#13915

Meningstuk deur professor Ann Skelton

Kinders in die tronk saam met hul moeders – Suid-Afrika neem die voortou

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het vandeesweek ’ n driejarige seuntjie huis toe gebring wat saam met sy ma in ’ n Mosambiekse gevangenis gewoon het; sy is aan dwelmhandel skuldig bevind. ’ n Kind in ʼn gevangenis is met die eerste oogopslag ’ n gruwel; ’ n gevangenis is nie ’ n plek vir ’ n kind om groot te word en te speel nie. Die band wat in die vroeë maande en jare tussen die ma en kind gevorm word, is egter belangrik, en die meeste regstelsels erken dit deur ’ n kind wat in die gevangenis gebore is, toe te laat om vir ’ n beperkte tyd by die ma te bly.

Die Suid-Afrikaanse reg bepaal dat kinders twee jaar lank by die ma kan bly, maar die tydperk kan aangepas word. As ’ n ma binne enkele maande na die einde van die twee jaar vrygelaat gaan word, is dit moontlik in die kind se belang om nie op skeiding aan te dring nie. Suid-Afrika is ’ n wêreldleier in regsontwikkelings wat sal verseker dat oorweging geskenk daaraan word om primêre versorgers hoegenaamd nie tronkstraf op te lê nie. Die presedent hiervoor is in 2007 geskep in die saak van S v M in die Konstitusionele Hof, waar die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Kinderreg as ’ n ‘ vriend van die hof’ voorleggings gemaak het.
Die Hof het besluit dat wanneer gevangenisstraf vir die primêre versorger van kinders by strafoplegging oorweeg word, die hof eers die impak wat gevangenisstraf van die versorger op die kinders sal hê, moet oorweeg. Mense reageer gewoonlik outomaties soos volg: ‘Die versorgers moes mos geweet het hul optrede kan tot gevangenisstraf lei – hoe kan hulle dan “los kom” net omdat hulle ouers is?’ Dit is inderdaad wat die staat destyds aangevoer het, maar die hof wou dit nie aanvaar nie. Die hof het gesê die fokus van die staat se argument is verkeerd: Die kind is onskuldig aan die misdaad maar sal daaronder ly as die ouer tronk toe gaan. Die saak van S v M het egter nie gelei tot ’ n reël wat bepaal dat versorgers nooit in die tronk sal beland nie, maar net dat die hof die impak van gevangenisstraf ernstig moet oorweeg en, indien moontlik, die oortreder uit die tronk moet hou deur hom of haar ’ n vonnis van nie-gevangenisstraf, bv korrektiewe toesig, op te lê. Indien gevangenisstraf na behoorlike oorweging van alle opsies die enigste gepaste vonnis is, moet die hof seker wees van hoe die kinders in die afwesigheid van die versorger versorg sal word.

Die Konstitusionele Hof het hom deels op die Afrikahandves van die Regte en Welsyn van die Kind beroep, waarvan artikel 30 klousules bevat wat die gebruik van ander vonnisse as gevangenisstraf aanmoedig in die geval van moeders van kinders. Die VN se Konvensie oor die Regte van die Kind bevat nie so ’ n artikel nie, maar na S v M het die VN se Komitee oor die Regte van die Kind ’ n spesiale dag van besprekings oor ‘ kinders van ouers in gevangenis’ gehou waar die saak voorgehou is. Sedertdien is die idee dat ’ n hof by strafoplegging die impak van die vonnis van versorgers op hul kinders moet oorweeg, opgeneem in verskeie VN-resolusies en die Bangkok-reëls vir die behandeling van vrouegevangenes. Die Afrikakomitee van Kenners oor die Regte en Welsyn van die Kind het sy eerste Algemene Kommentaar oor hierdie onderwerp uitgereik, met ’ n aanhaling van regter Albie Sachs se beroemde woorde uit die S v M-uitspraak: ‘ Elke kind het sy of haar eie waardigheid. As ’ n kind grondwetlik as ’ n individu met ’ n eie persoonlikheid beskou moet word, en nie bloot as ’ n miniatuurvolwassene wat wag om volgrootte te bereik nie, kan hy of sy nie as ’ n blote verlenging van sy of haar ouers behandel word nie, asof deur die naelstring bestem om saam met hulle te sink of te swem.’



Professor Ann Skelton is die Direkteur van die Sentrum vir Kinderreg aan die Universiteit van Pretoria.
Yüklə 6,09 Kb.

Dostları ilə paylaş:




Verilənlər bazası müəlliflik hüququ ilə müdafiə olunur ©genderi.org 2024
rəhbərliyinə müraciət

    Ana səhifə